Fondse vir die kinderhuis op Stellenbosch

About

JEUGUITREIK LOODS PROJEK 50/1000

 

Jeuguitreik, die kinderhuis van Stellenbosch by die Du Toitstasie het onlangs Projek 50/1000 geloods.

 

Met Covid in die afgelope twee jaar is Jeuguitreik hard geslaan met meer uitgawes, hoër kostes  en dalende donasies. Voorts het die staat sy subsidie vir Jeuguitreik, wat net sowat 60% van sy uitgawes dek, in die nuwe boekjaar verminder.

 

Jeuguitreik benodig dus dringend 50 persone of instansies in die dorp wat elkeen ‘n gereëlde maandelikse donasie van R1000 kan gee, of ‘n eenmalige jaarlikse donasie van R12 000. Vandaar Projek 50/1000.

 

Jeuguitreik speel sedert 1997 ‘n aktiewe rol in die diensverskaffing en bystand aan Stellenbosch se kwesbare jeug. Wat begin het as dienste aan straatkinders, het ontwikkel in twee Kinderhuise en twee Drop-ins waar voeding, skoolondersteuning, kleding, gesinhereniging en terapeutiese dienste aktief, en met liefde, aangebied word.


Die vermeerdering in armoede en verswakte ekonomie, dwing Jeuguitreik om voorsiening te maak vir meer kinders wat afhanklik is van Jeuguitreik se dienste. Verder is almal getref deur die COVID-19 krisis, veral die kwesbaarste gemeenskappe in die dorp. Derhalwe klop ‘n groter aantal behoeftige kinders maandeliks by Jeuguitreik aan om versorg te word.


“Ons kan en mag nie ‘n honger kind wegwys nie! Maar dit beteken wel dat ons diep in ons reserwe-fondse moes indelf om ons dienste te lewer, wat onvolhoubaar is,” het Prof. Johan Hattingh, Voorsitter van die Direksie van Jeuguitreik gesê.


Dalene Bosman, Direksielid, het bygevoeg: “Daarbenewens hou staatssubsidies ongelukkig ook nie tred met die gepaardgaande verarming en werkloosheid nie. Donasies van goedere is baie welkom, maar ons het geld nodig om die dienste van ons 2 maatskaplike werkers en 10 Jeugsorgwerkers te kan behou om 80+ kinders maandeliks fisies en emosioneel te versorg.

“Ongeveer 2400 etes word maandeliks voorberei aan honger kinders – dit is in baie opsigte hulle enigste sekuriteit.”


Daarom benodig Jeuguitreik 50 Stellenbossers met groot harte wat bereid is om hulle hande diep in hul sakke te sit en elk R1000 per maand te skenk, of 'n jaarlikse, eenmalige skenking van R12,000 te maak. Elke donateur ontvang 'n 18A serifikaat wat belasting-voordele inhou.


“Hierdie waardevolle skenking sal ons nie net help om ons Kinderhuise en Drop-ins in stand te hou nie, maar dit sal ons ook help dat Jeuguitreik se dienste ‘n groter en meer volhoubare inpak in die kwesbare kinders se lewens te kan maak. It takes a village to raise a child! Geen kind in Stellenbosch mag agtegelaat word nie!” het Dalene Bosman verduidelik.


“Jeuguitreik het die Stellenbosch gemeenskap se insette nou meer as ooit nodig om ons deure oop te hou, kinders in die skool te kry (en te hou) en te verhoed dat 'n straatkinder-probleem weer Stellenbosch middedorp teister soos in die laat 90's. Stellenbossers se insette kan die verskil maak!”, aldus Prof. Hattingh.


Jeuguitreik se bankbesonderhede is as volg: •Youth Outreach • First National Bank • Takkode: 200610 • Rek nr: 6206 53 74 375 • Verwysing: (baie belangrik): U voorletter en van.


Stuur asseblief die bewys van inbetaling aan na: [email protected] sodat Jeuguitreik kan boekhou van u gewaardeerde bydrae en betyds die 18A sertifikaat aan u kan uitreik.


HELP JEUGUITREIK DAT KINDERS NIE DIE STRAAT KIES VIR ‘N HEENKOME NIE


Additional information

Refund policy No refunds

Organiser

How can we help?