Christof Van Der Berg - Stories en Sterre
Sat Dec 5, 19:00 - Sat Dec 5, 20:30
The Showroom Theatre
ABOUT
Die storie: “Waar lê die goud waarna ’n mens jou hele lewe lank soek?”
Vir pianis en storieverteller Christof van der Berg begin die storie toe hy as seuntjie een aand saam met sy pa op die soutplaas Witkraal, na die sterre gelê en kyk het. Terwyl hulle besin oor uitgebrande sterre en konstellasies, vertel sy pa hom die verhaal van die laaste wilde leeu in die Vrystaat en van die goud wat iewers in Witkraal begrawe lê. Min het hy geweet dat daardie aand die begin sou wees van ’n reis wat hom as sestienjarige na Hollywood sou neem – waar hy ’n internasionale klavierkompetisie wen – en later na stede en verhoë reg oor die wêreld.
Twee tragedies verander sy lewe ingrypend. Sy pa sterf onverwags in 2019 en kort daarna tref Covid Suid-Afrika. Die inperking dwing hom terug na sy geboortegrond en op Witkraal begin ’n nuwe fase van sy lewe: hy boer, skryf musiek, maak eksotiese lampe en ontluik as skilder. En in hierdie tyd word Stories en Sterre gebore.
Stories en Sterre, is veel meer as net ’n musiekvertoning. Dit is ’n nostalgiese verhaal vol verwondering wat onder die sterre van die Vrystaatse soutplaas begin het en vandaar gelei het na glansryke wêreldstede, ontmoetings met onvergeetlike karakters en oomblikke wat sy lewe vir ewig sou verander. Tog bly daar daardie een vraag wat soos ’n goue draad deur alles loop: “Waar lê die goud regtig begrawe?”
Dr Danie Langer, uitvoerende hoof, FAK, Voortrekkermonument, beskryf die vertoning as volg:
“Christof van der Berg se stemkwaliteit, emosionele diepte en sy vermoë om deur musiek eg menslike stories te vertel, het my daartoe gelei om hom vir ‘n optrede by die Voortrekkermonument in Pretoria te nooi. Daardie aand het hy bewys dat hy ’n buitengewone kunstenaar is – ’n samesmelting van tegniese uitnemendheid en ’n egte hart wat elkeen in die gehoor geraak het. In albei optredes het hy die gehoor se voete onder hulle uitgeslaan en ’n blywende indruk gelaat. Christof se werk is in elke opsig wêreldklas – gekenmerk deur styl, integriteit en besondere musikale vakmanskap.”
Meer inligting oor Christof en sy vertonings is beskikbaar op www.christofvanderberg.com en op Facebook by https://www.facebook.com/christof.vanderberg of by https://www.facebook.com/christofbergmusic