HERLEWINGSLANDBOU-EN-VESEL-BOEREDAG
Fri Oct 13, 08:30 - Fri Oct 13, 15:00
Dwarsvlei, Middelbrug
ABOUT
Praktiese herlewingslandboupraktyke vir wolboere – moenie die boeredag misloop nie!
Met die oog op ’n ál groter internasionale vraag na vesel wat met herlewingslandboupraktyke verbou word, bied Landbouweekblad en OVK op Vrydag 13 Oktober ’n boeredag op die plaas Dwarsvlei by Middelburg aan. Ons gaan die praktiese uitvoerbaarheid van hierdie benadering tot veselproduksie onder die loep neem.
Beskryf as “witgoud”, is dit veral Europese kopers wat ’n hoë premie plaas op wol wat met herlewingslandboupraktyke verbou word. Twee van Suid-Afrika se handjie vol boere wat amptelik as herlewingslandbou-produsente geakkrediteer is, sal hul produksietegnieke op dié boeredag bespreek.
James Brodie wat met bees en skaap naby Graaff-Reinet boer, sal sy aanslag tot herlewingslandbou in die droë Karoo uiteensit. Rowan Stretton van Molteno, ook ’n bees-en-skaapboer, sal sy herlewingslandbou-aanslag op die suurveld waar hy boer, bespreek. Hans van Rooyen van Clocolan sal ook meer vertel oor die lesse wat hy oor die jare met die toepassing van herlewingslandbou in sy gemengde vee-en-saaiboerdery in die Vrystaat geleer het.
Jacques le Roux, hoofbestuurder van vesel by OVK, sal konteks gee oor hoe internasionale verbruikers se aandrang op omgewingsvriendelik geproduseerde vesel mettertyd plaaslike wolproduksie gaan beïnvloed, en hoe boere hulself daarop kan voorberei.
Met ekstensiewe veeprodusente (plaaslik en wêreldwyd) wat tans onder groot finansiële druk verkeer, doen Monica Ebert, ’n bestuurder by die internasionale Woolmark Company, verslag oor hoe vee- en veral veselboere elders in die wêreld dit regkry om die somme te laat klop.
Die welbekende Merinoboer van Dordrecht, voormalige OVK-direkteur en Landbouweekblad- rubriekskrywer, Claude Cloete, kom verduidelik hoe die plaaslike somme moet lyk vir veeboere om die huidige afswaai in die bedryf te kan trotseer.
Kaartjies: R250 (Verversings en middagete is ingesluit.)
Navrae: Jo-Anne Bester by 066 485 0850.