Neil Sandilands & Die Band: Naboomspruit, Limpopo, Olifant Oasis, 18 Julie, 19:00
Tue Jul 18, 19:00 - Tue Jul 18, 22:00
Olifant Oasis, Naboomspruit
ABOUT
Lekker ou Limpopo! Ons is bokvetblink opgewonde om daar by julle te kom note gooi! Hierdie ryk, anderwêreldse vertoning bied van die mees begaafde musici wat ons pragtige land in aanbod het, en met die onkonvensionele, rasperige, aweregse Neil Sandilands aan’t stuur van sake, is jy in vir ’n ding!
Die “Neil Sandilands Gedoente” bring instrumente en blikke en sakke vol truuks na die Olifant Oasis in Naboomspruit, hierdie winter, die 18de Julie 2023, en die avontuur begin so teen 19:00!
Neil Sandilands is deesdae orals. Ons onthou hom natuurlik meestal as “Bart” van 7de Laan, maar die man het selfs Hollywood op sy manier gaan aandurf, en ’n uitklophou gepot. Sweet Tooth Seisoen 2 op Netflix, waar hy die rol van die booswig “General Douglas Abbott” vertolk, is nog vars in die geheue en daarbenewens het hy sommer sy tweede vollengte album “Allegaarkie vir ’n Askeet” uitgereik. Snitte soos “Huistoe”, “Stilte wat Raas” en “Kômmôsêdiesê” speel oor die luggolwe en moenie van die wonderlike musiek soos “Woestynroos” vergeet wat hy vir die uitmuntende M-Net reeks “Desert Rose” geskryf het nie.
Sy vorige toer “Woorde en Akkoorde na die Noorde” het gehore gaande gehad en Afrikaanssprekendes wyd-en-suid het gevra vir nog. Hier is die geleentheid nou!
Sandilands toer hierdie winter, Julie, noordwaarts vanaf die Overstrand al die pad tot in Mpumalanga en Limpopo. Die ander muskante saam met die wavrag is die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert, die kitaarspeler Frank Freeman en hun Ingilsman (darem met Ierse bloed), Ronan Skillen op perkussie. Hy slaan enige ding van ’n crankshaft tot ’n Indiese tabla en als tussenin.
Die boksemdaais bestaan uit werke vanaf al Sandilands se albums: Die SAMA-benoemde “Sangoma Sandilands & Jou Pa se Posse”, “Die Groot 5”, “Die Groot Niks” asook die nuwe album “Allegaarkie vir ’n Askeet”. Hy deel tussenin stories en kwinkslae uit sy lewensverhaal wat begin het langs die mynhope van Randfontein, gaan draai het in ver plekke soos Kuaui, Nieu Seeland, New York, Vancouver, Sunset Boulevard, die Namibwoestyn, Namakwaland en ja, sommer nou Naboomspruit ook.
Vra maar vir enige iemand wat al een van die besonderse vertonings beleef het, once you pop, you can’t stop. Dit maak inderdaad die lewe bietjie meer draaglik. Mens beleef die hele spektrum van emosies by een so ’n vertoning en voel ietwat ryker vir die belewenis. Dis presies wat die dokter aanbeveel het vir juis hierdie winter van loadshedding, kranksinnigheid en allerande aapstreke. Sien jou daar, 18 Julie, by Olifant Oasis, 19:00. Vatvas!