Lappoppe

About

Ons is die Jaarsies! ??

Ons samel geld in vir my pa, Cobus van Jaarsveld, se broodnodige dubbele heupvervanging.

In 1983, terwyl hy op pad was om my ma te vra om met hom te trou, was hy in ’n ernstige motorongeluk betrokke. Kort nadat sy motor gediens is, het die agterwiel se as en laer losgekom, wat veroorsaak het dat hy beheer oor die voertuig verloor het.

Hy het ’n vergruisde heup, ’n ernstige rugbesering en erge kopbeserings opgedoen. Die dokters het geglo dat hy nooit weer sou loop of praat nie. Teen alle verwagtinge in het hy egter herstel, weer leer loop en selfs weer rugby gespeel.

Daarna het hy vir baie jare as predikant gedien en sy lewe daaraan gewy om ander te help en te dien, ten spyte van die pyn en langtermyngevolge van sy beserings.

Ná meer as 40 jaar het die skade hom egter uiteindelik ingehaal. Hy het nou dringend ’n dubbele heupvervanging nodig. Omdat hy nie ’n mediese fonds het nie, is hy tans nommer 283 op die waglys by die provinsiale hospitaal en leef hy elke dag met erge pyn.

As gesin doen ons alles moontlik om die nodige geld bymekaar te maak. Ons BackaBuddy-rekening staan tans op meer as R100 000, en ons is die Here innig dankbaar vir al Sy seëninge en vir elke persoon wat reeds ’n bydrae gemaak het. ????

Ons het kontak gemaak met Je-ani Swiegelaar en Marli van der Merwe om die produksie Lappoppe na Tzaneen te bring. Ons is ongelooflik opgewonde om Lappoppe op 7 November in Tzaneen aan te bied en sodoende verder geld in te samel vir my pa se heupvervanging.

Kom lag, sing en ondersteun saam met ons! ????

Elke kaartjie, donasie en vorm van ondersteuning bring ons ’n stap nader daaraan om my pa weer beweging en vryheid sonder konstante pyn te gee.

Baie dankie aan elkeen wat ons ondersteun en saam met ons hierdie pad stap.

Mag die Here elkeen ryklik seën. ????

Contact info