Spontaan Pty LTD
About
Spontaan™ het nooit begin met die idee om iets groot te bou nie. Dit het begin met ’n eenvoudige begeerte om plek te maak.
Plek vir die vrou wat lief is vir Jesus, maar nog vrae het.
Vir die vrou wat sterk lyk, maar moeg by die huis kom.
Vir die een wat hard lag, diep voel, soms twyfel, weer opstaan en steeds haar pad terug na die Vader toe vind.
Hier hoef jy nie eers alles reg te hê voordat jy mag kom sit nie.
Ons glo daar is iets heilig aan vroue wat ophou voorgee en eerlik rondom ’n tafel kom sit. Waar ons kan lag totdat ons mae seer is, maar ook stil genoeg kan raak om te hoor wanneer God praat. Waar die Woord nie net iets is wat ons aanhaal nie, maar die waarheid waaraan ons ons lewens toets.
Spontaan gaan oor mooi dinge, ja. Oor tafels, vrouwees, skep, kuier en saamwees. Maar onder dit alles lê iets baie dieper.
Jesus. Altyd Jesus.
Ons wil nie vroue leer hoe om perfek te lyk nie. Ons wil vroue herinner Wie hulle s’n is, hulle terugroep na waarheid en ruimte maak vir egte ontmoeting met God en met mekaar.
Soms is dit mooi. Soms is dit wild. Soms is dit sag. En soms is dit heilig op maniere wat niemand kon beplan nie.
Dit is Spontaan. Kom soos jy is. Daar is plek vir jou aan die tafel.