Toyota US Woordfees

About

Die Woordfees verander die universiteitsdorp van Stellenbosch in die Wes-Kaapse wynlande in ’n warrelwind van energie en kreatiwiteit wanneer kunstenaars, gehore en gemeenskap mekaar vind in ’n vreugdevolle viering van boeke, skrywers, teater, musiek, kuns, dans, diskoers en films.Die Woordfees het in 2000 as ’n deurnagviering van Afrikaanse woordkuns begin, maar het in die afgelope twee dekades gegroei tot een van Suid-Afrika se grootste meertalige kunstefeeste. In 2020 is om die 500 uitvoerings en geleenthede in meer as 70 venues in en om Stellenbosch aangebied.Gedurende die Covid-pandemie het die fees voortgeleef in nuwe innoverende gedaantes. In April 2021 is die Flikker & Flash-opwipvertonings in leë winkelvensters en in die strate van Stellenbosch aangebied. Die fees het ook in 2021 geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse kunstefees te word wat op ‘n opwip-TV-kanaal plaasgevind het. Woordfees TV is van 1 tot 10 Oktober op DStv-kanaal 150 uitgesaai. Hierdie pioniersprojek was so ‘n sukses dat Woordfees TV ook in 2022 aangebied word in Julie, gevolg deur ‘n fees in die vlees gedurende Oktober in Stellenbosch.Die US Woordfees is egter veel meer as ’n kunstefees. Hierdie merkwaardige onderneming, wat deel van die Universiteit Stellenbosch se Sosiale Impak en Transformasie-omgewing vorm, is ook die tuiste van verskeie langtermynprojekte wat oor die hele jaar bedryf word en ’n daadwerklike verskil in die lewens van duisende mense maak.

 

Vir meer inligting oor die fees of enige van die aanbiedinge, kontak asseblief: [email protected]

Contact info