Plaashuis - Kortfilm

About

Plaashuis is 'n beplande kortfilm wat handel oor twee vroue wat ‘n moordtoneel op 'n plaas skoonmaak. Met Martelize Kolver, Nicola Hanekom en Albert Pretorius.






Plaashuis


Verlede jaar was daar 552 plaasaanvalle in Suid-Afrika, van wie 57 mense vermoor is. Al is plaasgemeenskappe nie uitgesluit van Suid-Afrika se gewelddadige kultuur nie, is die wyses waarop hierdie geweld gepleeg word baie uniek. Met ons land se politiese, rasse-, sosio-ekonomiese en geografiese uitdagings, moet die vraag gevra word: wat is ons verantwoordelikheid teenoor hierdie ontstellende gebeurtenisse?


In teenstelling met vorige benaderings, het hierdie kortfilm ten doel om die fokus te verskuif na wat ná 'n aanval gebeur. Hierdie nuwe invalshoek poog om die gesprek rondom aanvalle te vernuwe en die breë publiek bewus te maak van wat die impak hiervan is. 


Waaroor gaan die kortfilm?


Plaashuis vertel die verhaal van Elize, 'n middeljarige vrou wat aan inwoners van haar dorp skoonmaakdienste verskaf. Sy ontvang 'n oproep van Thys wat vertel dat sy buurman en gesin op hul plaas aangeval is en hy vra of Elize die huis sal skoonmaak. Hierdie is die eerste keer wat Elize só 'n toneel skoonmaak en sy vra haar vriendin, Ronelle, om te help. Gedurende die skoonmaakproses word die twee vroue nie net gekonfronteer met die stille getuienis van 'n plaasmoord nie, maar ook wat dit werklik beteken om verantwoordelikheid vir hul medemens te neem. 


Hierdie kortfilm is gebaseer op onderhoude met vroue wat soortgelyke plaasmoordtonele skoongemaak het. Onderhoude is ook gevoer met werklike slagoffers en daarom, uit respek vir diesulkes, sal hierdie kortfilm nie plaasmoorde verpolitiseer, antwoorde bied of vermaak skep uit ander se werklike pyn en lyding nie. Die kortfilm wil eerder elke toeskouer vra: "Wat dink jy hiervan, wat is jou posisie, wat beteken hierdie vir jóú?".


Wie vertolk die hoofrolle?


Martelize Kolver en Nicola Hanekom sal die rolle van die twee vroue, wat die moordtoneel skoonmaak, vertolk en Albert Pretorius die boer van die aangrensende plaas. 


Waar gaan ek die kortfilm kan sien?


Nadat Plaashuis vervaardig is, sal die kortfilm onmiddellik aanlyn beskikbaar wees. Sodoende sal die wydste moontlike gehoor bereik word.


Hoe sal die geld bestee word?


Die geld wat ingevorder word, sal vir die vervaardiging van die kortfilm gebruik word. Dit sluit die volgende in:


- Produksie


  • die salarisse van die akteurs en filmspan
  • die produksieontwerp
  • die huur van kamera-, klank- en beligtingstoerusting
  • die huur van die perseel
  • vervoer na die plaas
  • verblyf en etes gedurende die skietperiode van drie dae 

- Post-produksie


  • videoredigering
  • klankredigering

- Versekeringskoste

- BTW


Die regisseur en vervaardigers sal geen salaris ontvang nie. Die res van die filmspan sal wel vergoed word, veral omdat die coronavirus 'n groot impak op die kunsbedryf, nes ander industrieë, gehad het.


Ons mylpale


Keerpunt: R150 000


  • Indien ons R150 000 insamel, kan ons die basiese produskieonkostes dek. 


Droom doelwit: R208 200


  • Indien ons R208 200 insamel, kan die filmspan 'n salaris verdien en die post-produskieonkostes sal ook gedek kan word.


Die filmspan



NB: die betalings op hierdie webwerf maak verwysing na 'n voorwaarde rakende "geen terugbetalings". Dit geld slegs vir donasies wat aanvanklik op hierdie webwerf oorbetaal word. Indien die minimum mylpaal van R150 000 nie behaal word nie, sal die filmspan die betalings terugbetaal deur met ondersteuners kontak te maak deur middel van die e-posadresse wat voorsien is.

Additional information

Refund policy No refunds

Organiser

How can we help?