Weg Ry & Sleep Bull Run 2019

Thu Sep 26, 07:00 - Sun Sep 29, 21:00

Van Wyksvlei

ABOUT

Dis weer Bull Run tyd. Hier is wat jy móét weet.

 

Die Bull Run is een van daai ikoniese byeenkomste wat jy nooit regtig sal verstaan as jy nog nie saam op die pan gestaan en stof gevreet het nie. Dis ‘n petrolgedrewe-partytjie met ‘n V8 en ‘n lekker raserige uitlaatstelsel waar mans en vrouens weer hulle tienerbrein kan asem gee om te droom dat hulle weer 16 jaar oud is, vir die naweek pa se karsleutels gekry het, en niemand is by die huis nie... Daai Cortina MOET ge-rev word.

 

Maar soos met enige ding, is daar tog ‘n paar riglyne wat voornemende deelnemers moet weet, voordat jy op die internet begin om die regte kar vir jou uit te snuffel of jou tannie se arm probeer draai om Betsie, haar 1958 Volvo vir minder as R25 000 by haar te koop. So voordat ons gaan begin met inskrywings, moet jy sekermaak jy verstaan al die riglyne en dat jy jou aansoek volledig voltooi.


Tydens hierdie registrasieproses moet voornemende deelnemers al die inligting wat gevra word voorsien. Onvolledige inskrywings sal agter in die ry inval en die volgende volledige inskrywings sal oorweeg word.


Alle vrae wat jy moontlik kan vra word onder die INFO op hierdie blad bespreek.


Vir enige verdere vrae kan die organiseerders gekontak word, maar sinnelose vrae kos 'n bottel single malt whiskey of Captain Morgan rum. Vra dus met oorsig.


 

INLIGTING / INFO

As jy hierdie jaar beoog om aan die Bull Run deel te neem, is hierdie die inligting wat jy moet weet. Jy sou teen hierdie tyd al meeste hiervan gehoor of gesien het, maar lees maar weer deur net om seker te maak jy verstaan regtig alles.
Enige registrasies wat ontvang word wat onvolledig is of nie aan hierdie voorskrifte voldoen nie, sal agter in die ry inval en die volgende volledige aansoek sal oorweeg word.

1.      Datum: 26 – 29 September 2019. Dit is die tweede naweek van die skoolvakansie.

2.      Plek: Die Weg Ry & Sleep Bull Run vind in Van Wyksvlei plaas. Dit is ’n klein dorpie in die Noord-Kaap tussen Prieska, Kenhardt, Brandvlei en Carnarvon.

3.      Inskrywings open: Inskrywings sal op 22 Februarie 2019 om 12:00 oopmaak. Dit sal in twee fases geskied wat hieronder uitgepluis word.

 

HIERDIE IS BAIE BELANGRIK WANT JY GAAN OP DIE INSKRYWINGSVORM KIES DAT JY AL HIERDIE REËLS GELEES HET EN VERSTAAN EN JY GAAN GEEN GRONDE HÊ OM DAAROOR TE STRY NIE. Ons probeer die proses so gou as moontlik afhandel en om dit so glad as moontlik te laat verloop vir almal betrokke.

a.      Eerste fase. Die eerste fase gaan ‘n vooraf-registrasie wees. Voornemende deelnemers gaan ‘n vorm moet invul met al die span se besonderhede wat versoek word. Onvolledige registrasies sal nie oorweeg word nie. Hierdie vorm gaan gebruik word vir keuring vir deelname aan die Bull Run. Die kriteria wat ons gaan gebruik word hier onder verduidelik. Die klem val egter op voertuie wat oud genoeg is (ouer as 1980), min genoeg gekos het (minder as R25 000) en voorkeur word aan vierdeursedans gegee. Dus sal ‘n 1992-model Pajero wat jy vir R60 000 gekoop het, nie oorweeg word nie. Hou ook in gedagte dat daar gesinne, vrouens en kinders ingesluit, aan die Bull Run deelneem. Dit sluit ook mense van ander kulture, herkoms, politieke oortuigings en geloof in, so kies tema’s en spanname met klas. Almal will die Bull Run geniet, en jy wil nie die rede wees dat iemand dit waarna hy al lankal uitsien nie geniet nie.

b.      Tweede fase. Ons sal die aanvanklike registrasie vir om en by drie weke ooplos tot in die middel van Maart, afhangend van die aanvraag. Moet asseblief nie elke tweede dag vra wanneer dit afgehandel gaan word nie – baie van die keuring gebeur solank in hierdie tyd, en ’n irriterende voornemende deelnemer kry dalk maklik ’n merkie langs sy naam.

Sodra die lys van voornemende deelnemers goedgekeur is, sal hulle ingelig word per e-pos en hulle sal dan ‘n tydperk van twee weke hê om die registrasie te voltooi en die betaling te maak. Aansoekers wat nie die keuring gemaak het nie sal ook ingelig word – dis sal almal op dieselfde dag die nuus kry. As almal rondom jou hoor en jy hoor niks, gaan kyk in jou spam-e-pos of die boodskap nie dalk daar lê nie.

Indien deelnemers nie hulle inskrywing afhandel en die betaling maak nie, of nie die nodige reëlings tref om uitstel te vra nie, sal hulle inskrywing summier gekanselleer word, en die volgende deelnemer op die lys sal toegelaat word om in te skryf. Daar sal nie korrespondensie daaroor gevoer word nie, en dit sal so gou as moontlik afgehandel word sodat die volgende persoon op die waglys genoegsame tyd het om sy inskrywing in te kry.

4.      Koste: Die koste vir deelname beloop R2600 per persoon en R2350 per voertuig. Die koste vir ondersteuners is R1250 per persoon.

5.      ‘n Gedeelte van hierdie geld word in ‘n fonds belê wat uitsluitlik gebruik word om die gemeenskap in en rondom Van Wyksvlei by te staan. Of dit nou ‘n nuwe skoolgebou en verf vir die klaskamers, of ‘n pawiljoen by die sokkerveld is, is die doel uitsluitlik om Van Wyskvlei, en later die groter omgewing, op te hef met ons bydrae as Bull Runners.

6.      Daar sal ook weer hierdie jaar ’n tentedorp wees wat opgeslaan word sodat deelnemers nie self in die son en stof moet tent op- en afslaan nie. Daar sal twee verskillende opsies wees vir tente:

a.      Basiese tent: Sluit in ‘n matras per persoon, die res moet jy self bring. Koste: R2500 vir die naweek per tent (twee persone).

b.      Luukse tent: Sluit in ‘n matras, ‘n bed, ‘n stoel en slaapsak. Koste: R4000 vir die naweek per tent (twee persone).

7.      Dit is baie belangrik dat alle ondersteuningspanne en -voertuie ook vir die byeenkoms registreer, anders sal hulle nie toegang tot die pan of skougronde/kamp kry nie. Toegang tot die pan sal hierdie jaar heelwat duurder en baie strenger wees – om ‘n ongemaklike skok te voorkom, maak seker almal registreer.

8.      DAAR SAL VOORTAAN GEEN TOESKOUER VOERTUIE OP DIE PAN TOEGELAAT WORD BUITE DIE TOEGEWYSTE PARKEERAREA NIE. Selfs al kom jy hoe ver om teen jou vriende te kom drag race, as jy nie ‘n betalende deelnemer is nie, sal jy slegs jou kar op die pan kan parkeer, en verder te voet kan beweeg op toegewysde roetes tussen die verskillende items. GEEN UITSONDERINGS EN GEEN BESPREKINGS NIE!

9.      As organiseerders behou ons die reg voor om enigiemand ter enige tyd van die pan te laat verwyder, want dit is privaatgrond, en het die Van Wyksvlei-polisie en eienaar van die pan se samewerking hierin.

10.  Elke deelnemer en passasier in die voertuig moet ’n geldige rybewys hê en dus ouer as 18 jaar wees.

11.  As jy instem om deel te neem aan die Weg Ry & Sleep Bull Run, stem jy in dat dit ’n uitstappie vol pret is en dat die klem nie noodwendig op mededinging val nie, maar eerder op hoeveel jy dit geniet. Die pret van die Bull Run kom van die deelnemers, nie die organiseerders nie.

12.  Pryse (indien enige) word toegeken volgens die organiseerders. Geen deelnemer is geregtig op enige prys nie, dit is nie waaroor die Bull Run gaan nie.

13.  Die rygoed: Om die byeenkoms meer by die oorspronklike idee te hou moet die rygoed ouer as 1980 (1980 ingesluit) wees en minder as R25 000 kos. Dit sluit alle uitgawes in van herstelwerk tot registrasiefooie.

a.      Voorkeur sal aan vierdeursedans gegee word. 

b.      Alle voertuie moet veiligheidsgordels vir ALLE insittendes hê. Indien veiligheidsgordels aangebring moet word, kan dit gedoen word sonder om die koste van die voertuig vir deelname (R25 000) te beïnvloed.

c.      Waar moontlik word deelnemers gevra om valhelms te dra, veral tydens die items op die pan tydens die Bull Run.

d.      Dit bly die reg van die organiseerders om inskrywings wat nie by die reëls hou nie af te keur.

e.      Al manier hoe ’n voertuig wat buite die spesifikasies val toegelaat sal word, sal wees indien die voertuig al voorheen aan die Bull Run deelgeneem het, nie die span nie. In buitengewone gevalle kan ’n uitsondering ook aan hierdie reël gemaak word.

f.       Vir ’n voertuig om deel te neem moet dit op eie stoom in Van Wyksvlei aankom. Indien ’n voertuig op pad breek, kan dit op ’n sleepwa tot by die kampterrein gesleep word vir herstelwerk. Die idee bly dat voertuie self tot in Van Wyksvlei ry en self op eie stoom deelneem. Dit is deel van die ervaring.

g.      Elke voertuig wat deelneem moet padwaardig wees en bewys van registrasie moet gelewer kan word as die organiseerders dit sou versoek.

14.  Die voorgee-stelsel sal baie strenger toegepas word. Dit bepaal hoeveel persent van die span se punte wat hulle verwerf gaan tel vir hul finale punt. Die maksimum gaan 100 voorgeepunte wees, so persoon sal dus 100% van sy punte kry. Hoe laer jou voorgee, hoe minder punte kry jy. Niemand se voorgee sal egter 0% wees nie. Maar om seker te maak jy kry die beste moontlike voorgee, moet jy ook seker maak jy neem deel in die gees van die Bull Run. Dit beteken jou span en jou voertuig is volgens ’n tema versier, jy is reg vir ’n rally en reg vir pret. Die ouderdom van die voertuig, enjingrootte en waarde word ook hierby in berekening gebring.

15.  Deelnemers word versoek om alle insittendes se naam op die kar te skryf onder die venster waar die persoon gaan sit. Die voertuig se ouderdom moet ook op die kar geplak word (voorste modderskerm aan die bestuurderskant) en ook die waarde van die voertuig. Indien jy dus die waarde van jou voertuig uit jou duim uit suig, sal ander deelnemers dit gou agterkom. Dit sal steeds ook jou voorgee negatief beïnvloed.

16.  Drankgebruik ten tyde van deelname word ten sterkste afgekeur en spanne wat skuldig gevind word sal gediskwalifiseer word en nie toegelaat word om verder te bestuur nie. Deur te drink en bestuur oortree jy nie net die wet nie, maar stel jy ook eie lewe en die van ander deelnemers, ondersteuners en toeskouers in gevaar. Daar sal sporadiese alkoholtoetse gedoen word.

17.  Die besluit van die organiseerders oor enige aspek van die Bull Run, in oorleg met die redakteur van Weg Ry & Sleep, die uitgewer en Media24, is finaal en geen gesprekke sal daaroor gevoer word nie.

18.  Weens die inherente risiko van so baie deelnemende voertuie is dit belangrik dat alle deelnemers tydens die Bull Run die aanwysings en opdragte van die organiseerders en beamptes gehoorsaam.

19.  As jy jou inskrywing wil kanselleer, moet jy die versoek skriftelik aan die organiseerders rig ten minste 30 dae voor die aanvang van die byeenkoms. In so ’n geval sal jy 50% van jou inskrywingsgeld terugkry. Indien dit minder as 30 voor die tyd gekanselleer word, sal jy jou inskrywingsgeld verbeur.

DIRECTIONS

Weg Ry & Sleep Bull Run 2019
Van Wyksvlei
Vanwyksvlei, 8922, South Africa
Get Directions