Weg Ry & Sleep Bull Run 2018

Thu Oct 4, 07:00 - Sun Oct 7, 21:00

Van Wyksvlei

ABOUT

Die Weg Ry & Sleep Bull Run vind hierdie jaar van 4 tot 7 Oktober 2018 plaas in Van Wyksvlei.

Voorafregistrasie is afgehandel en geen registrasies kan meer aanvaar word nie. Die keuringsproses is ook afgehandel en die spanne wat dit gemaak het is reeds in kennis gestel. 

As jy nog nie weet wat die Bull Run is nie, lees meer hier. In kort is dit eintlik maar net ‘n klomp mans wat weer 16 jaar oud voel en hulle pa se karsleutels gesteel het vir ‘n naweek van pret.

Kostes vir deelname is as volg:

R1600 per spanregiststrasie en ‘n addisionele R2400 per lid van die span.
Ondersteuners teen R1000 per persoon. 

Dit sluit vir almal toegang tot die terreine, kampplek op die terrein en 'n braaipak elke aand in. 

Besprekings vir ondersteuners wat nie deel is van 'n span wat reeds deelneem nie sal in April open. Hou die Facebook-blad dop. 

INLIGTING / INFO

As jy weet wat die Bull Run is, weet jy dat jy dit nie kan misloop nie!
 
Inskrywings maak eersdaags oop, lees solank hier om seker te maak jy verstaan alles mooi.
  1. Datum: 4-7 Oktober 2018. Dit is die tweede naweek van die skoolvakansie.
  2. Plek: Die Weg Ry & Sleep Bull Run vind in Van Wyksvlei plaas. Dit is ’n klein dorpie in die Noord-Kaap tussen Prieska, Kenhardt, Brandvlei en Carnarvon.
  3. Inskrywings open: Ons beoog om die inskrywings so gou as moontlik oop te maak. Dit gaan hierdie jaar effens anders werk. Die inskrywings gaan in twee fases gedoen word.
    1. Eerste fase. Die eerste fase gaan ‘n vooraf-registrasie wees. Voornemende deelnemers gaan ‘n vorm moet invul met al die span se besonderhede wat versoek word. Onvolledige registrasies sal nie oorweeg word nie. Hierdie vorm gaan gebruik word vir keuring vir deelname aan die Bull Run. Die kriteria wat ons gaan gebruik word hier onder verduidelik. Die klem val egter op voertuie wat oud genoeg is (ouer as 1980), min genoeg gekos het (minder as R25 000) en voorkeur word aan vierdeursedans gegee. Dus sal ‘n 1992-model Pajero wat jy vir R60 000 gekoop het, nie oorweeg word nie. Die rede hoekom ons so streng op keuring is, is om die beginsel van die byeenkoms reg toe te pas. As iemand ‘n plek kry met ‘n voertuig wat glad nie binne die spesifikasies val nie, en daar is iemand wat uitmis met ‘n voertuig wat presies in die gees van die Bull Run sal inpas, is dit nie regverdig teenoor die laasgenoemde nie. Daar word egter ook steeds op die basis gewerk dat hoe gouer jy registreer, hoe beter is jou kans om plek te kry.
    2. Tweede fase. Sodra die lys van voornemende deelnemers goedgekeur is, sal hulle ingelig word en hulle sal dan ‘n tydperk van twee weke hê om die registrasie te voltooi en die betaling te maak. Indien hulle dit nie doen nie, of nie die nodige reëlings tref om uitstel te vra nie, sal hulle inskrywing summier gekanselleer word, en die volgende deelnemer op die lys sal toegelaat word om in te skryf.
  4. Koste: Die koste vir deelname beloop R2400 per persoon en R1600 per voertuig. Die koste vir ondersteuners is R1000 per persoon.
  5. ‘n Gedeelte van hierdie geld word in ‘n fonds belê (meer daaroor later) wat uitsluitlik gebruik gaan word om die gemeenskap in en rondom Van Wyksvlei by te staan. Of dit nou ‘n nuwe skoolgebou en verf vir die klaskamers, of ‘n pawiljoen by die sokkerveld is, is die doel uitsluitlik om Van Wyskvlei, en later die groter omgewing, op te hef met ons bydrae as Bull Runners.
  6. Dit is baie belangrik dat alle ondersteuningspanne en -voertuie ook vir die byeenkoms registreer, anders sal hulle nie toegang tot die pan of skougronde/kamp kry nie.
  7. Elke deelnemer en passasier in die voertuig moet ’n geldige rybewys hê en dus ouer as 18 jaar wees.
  8. As jy instem om deel te neem aan die WegRy Bull Run, stem jy in dat dit ’n uitstappie vol pret is en dat die klem nie noodwendig op mededinging val nie, maar eerder op hoeveel jy dit geniet. Die pret van die WegRy Bull Run kom van die deelnemers, nie die organiseerders nie.
  9. Die toekenning van pryse gaan hierdie jaar op ’n gelukkige trekking gedoen word – behalwe die hoofprys vir die algehele wenner. Die res wen ‘bragging rights’.
  10. Daar sal ook weer hierdie jaar ’n tentedorp wees wat opgeslaan word sodat deelnemers slegs ’n slaapsak en ’n kussing hoef te bring Die koste en spesifikasies hiervan sal later bekendgemaak word.
  11. Die rygoed: Om die byeenkoms meer by die oorspronklike idee te hou moet die rygoed ouer as 1980 (1980 ingesluit) wees en minder as R25 000 kos. Dit sluit alle uitgawes in van herstelwerk tot registrasiefooie.
    1. Voorkeur sal aan vierdeursedans gegee word. 
    2. Alle voertuie moet veiligheidsgordels vir ALLE insittendes hê. Indien veiligheidsgordels aangebring moet word, kan dit gedoen word sonder om die koste van die voertuig vir deelname (R25 000) te beïnvloed.
    3. Waar moontlik word deelnemers gevra om valhelms te dra, veral tydens die items op die pan tydens die Bull Run.
    4. Dit bly die reg van die organiseerders om inskrywings wat nie by die reëls hou nie af te keur.
    5. Al manier hoe ’n voertuig wat buite die spesifikasies val toegelaat sal word, sal wees indien die voertuig al voorheen aan die Bull Run deelgeneem het, nie die span nie.  In buitengewone gevalle kan ’n uitsondering ook aan hierdie reël gemaak word.
    6. Vir ’n voertuig om deel te neem moet dit op eie stoom in Van Wyksvlei aankom. Indien ’n voertuig op pad breek, kan dit op ’n sleepwa tot by die kampterrein gesleep word vir herstelwerk. Die idee bly dat voertuie self tot in Van Wyksvlei ry en self op eie stoom deelneem. Dit is deel van die ervaring.
    7. Elke voertuig wat deelneem moet padwaardig wees en bewys van registrasie moet gelewer kan word as die organiseerders dit sou versoek.
  12. Die voorgee-stelsel sal baie strenger toegepas word. Dit bepaal hoeveel persent van die span se punte wat hulle verwerf gaan tel vir hul finale punt. Die maksimum gaan 100 voorgeepunte wees, so persoon sal dus 100% van sy punte kry. Hoe laer jou voorgee, hoe minder punte kry jy. Niemand se voorgee sal egter 0% wees nie. Maar om seker te maak jy kry die beste moontlike voorgee, moet jy ook seker maak jy neem deel in die gees van die Bull Run. Dit beteken jou span en jou voertuig is volgens ’n tema versier, jy is reg vir ’n rally en reg vir pret. Die ouderdom van die voertuig, enjingrootte en waarde word ook hierby in berekening gebring.
  13. Deelnemers word versoek om alle insittendes se naam op die kar te skryf onder die venster waar die persoon gaan sit. Die voertuig se ouderdom moet ook op die kar geplak word (voorste modderskerm aan die bestuurderskant) en ook die waarde van die voertuig. Indien jy dus die waarde van jou voertuig uit jou duim uit suig, sal ander deelnemers dit gou agterkom. Dit sal steeds ook jou voorgee negatief beïnvloed.
  14. Drankgebruik ten tyde van deelname word ten sterkste afgekeur en spanne wat skuldig gevind word sal gediskwalifiseer word en nie toegelaat word om verder te bestuur nie. Deur te drink en bestuur oortree jy nie net die wet nie, maar stel jy ook eie lewe en die van ander deelnemers, ondersteuners en toeskouers in gevaar. Daar sal sporadiese alkoholtoetse gedoen word.
  15. Die besluit van die organiseerders oor enige aspek van die Bull Run, in oorleg met die redakteur van Weg Ry & Sleep, die uitgewer en Media24, is finaal en geen gesprekke sal daaroor gevoer word nie.
  16. Weens die inherente risiko van so baie deelnemende voertuie is dit belangrik dat alle deelnemers tydens die Bull Run die aanwysings en opdragte van die organiseerders en beamptes gehoorsaam.
  17. As jy jou inskrywing wil kanselleer, moet jy die versoek skriftelik aan die organiseerders rig ten minste 30 dae voor die aanvang van die byeenkoms. In so ’n geval sal jy 50% van jou inskrywingsgeld terugkry. Indien dit minder as 30 voor die tyd gekanselleer word, sal jy jou inskrywingsgeld verbeur.

DIRECTIONS

Weg Ry & Sleep Bull Run 2018
Van Wyksvlei
Vanwyksvlei, 8922, South Africa
Get Directions