Hoor sy lied: Jannie du Toit sing by Taalmonument
Sun Dec 13, 18:30 - Sun Dec 13, 20:00
Afrikaanse Taalmonument
ABOUT
Hoor sy lied: Jannie du Toit sing by Taalmonument
Spesiale geleentheid vier sy 75ste én 55 jaar in Afrikaanse musiekbedryf
Die bekende internasionale sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit vier op SONDAG 13 DESEMBER 2026 twee besonderse mylpale by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM): sy 75ste verjaardag én 55 jaar se betrokkenheid by die Afrikaanse musiekbedryf. Danksy ‘n spesiale musiekvertoning aan die voet van die monument kry musiekliefhebbers ’n eenmalige geleentheid om saam met hom terug te kyk op ’n merkwaardige loopbaan en die ryk tradisie van die Afrikaanse lied, waarvan hy ’n pionier is.
Die program bevat liedere wat vir Jannie persoonlike betekenis het, artistieke waarde besit en sy besondere verbondenheid met die taal weerspieël. Hy word boonop begelei deur die merkwaardige musici Johan Heystek op klavier en Rina Schutte op tjello. Die gehoor kan uitsien na ’n musikale reis deur verskillende tydperke van die Afrikaanse musiekgeskiedenis, met werke van onder andere Emiel Hullebroeck, Danie Bosman, Marie Tredoux en Jan Pohl. Ook tradisionele liedjies, gekenmerk deur hul digterlike gehalte en musikale verfyning, sal deel van die program wees, asook liedjies van geliefde kunstenaars soos Christa Steyn, David Kramer, Lucas Maree, Anton Goosen en Louis van Rensburg.
Só word ’n verskeidenheid stemme, style en musikale invloede byeengebring in ’n program wat die ongelooflike omvang van die Afrikaanse lied beklemtoon. Jannie is op 13 Desember 1951 in Heidelberg gebore en hou hom sedert 1971 besig met musiek, onder meer by die Universiteit van Pretoria waar hy musiekblyspele geskryf het. Wêreldwyd het hy reeds in meer as twintig lande opgetree.
Volgens die ATM-direkteur Michael Jonas sluit die viering aan by die instelling se strewe om Afrikaans se taal-, kuns- en kultuurerfenis te bevorder en op ’n toeganklike manier aan die publiek, veral jonger geslagte, bekend te stel. “Die geleentheid bied terselfdertyd aan besoekers ’n fantastiese rede om die simboliekryke Taalmonument te besoek en die terrein as ’n ruimte vir taal, musiek en kultuur te beleef,” sê hy. Ná afloop van die vertoning sal Jannie se CD’s en ander handelsware te koop wees en sal hy handtekeninge uitdeel.
Hekke open om 18:30 en die vertoning van sowat 75 minute begin om 19:00. Verversings sal by die bistro, Pottie’s Koffie, te koop wees. Let asseblief daarop dat eie kos en drank nie op die terrein toegelaat word nie. Aangesien die konsert in die aand plaasvind, word besoekers aangeraai om warm klere en komberse saam te bring.
??? Quicket.co.za of hek (slegs kaart/geen kontant)
· R120 per volwassene
· R90 per pensioenaris/kinders onder 18
?? Heinrich von Wielligh op 021 872 3441 of [email protected]