BESTE VAN ALLE TYE

Fri Sep 4, 19:30 - Sat Sep 5, 21:00

Kaapstad Toneelhuis

ABOUT

Na uitverkoopte feesvertonings, staande ovasies en ’n Kanna vir Beste Komedie by die KKNK 2026, keer BESTE VAN ALLE TYE terug – hierdie keer met ’n onverwagse, heerlik kommin kinkel.


Ané Koegelenberg en Christie van Niekerk se bekroonde sketskomedie neem Afrikaner-wees in die 21ste eeu onder die vergrootglas. Van popmusiek en piramideskemas tot tafelgebede, hondename, kultuur en al die vreemde gewoontes wat ons liewer nie hardop erken nie – niks is heilig nie en niemand is veilig nie. Met skerp satire, oorspronklike musiek, energieke dans en absurde karakters is BESTE VAN ALLE TYE ’n viering van alles wat ons laat lag, krimp én herken.


Die produksie is een van die mees bekroonde nuwe komedies op die Afrikaanse verhoog: in 2025 benoem vir die Kanna vir Beste Komedie en Beste Blitsteater, en wenner van die Kanna vir Beste Komedie in 2026 en ook benoem vir Beste Ensemble. (Klein Karoo Nasionale Kunstefees)


Op 4 en 5 September verander Kaapstad Toneelhuis in ’n kommin feesviering wanneer hierdie twee vertonings ook die amptelike bekendstellingspartytjie is van Koegelenberg en Van Niekerk se splinternuwe enkelsnit: “Tappit,Pyl, Kommin, Zef”. Verwag ’n aand vol satire, skreeusnaakse sketse, oorspronklike musiek, verrassings en genoeg zef-energie om die dak af te blaas. Hierdie is nie net ’n teatervertoning nie – dis ’n belewenis.


Artist bios:


Ané is ‘n toegepaste teaterpraktisyn/teatermaker en het in 2021 ‘n BA(Hons) Drama- en Teaterstudie by Stellenbosch Universiteit verwerf. Sy is een helfte van die komiese duo agter die bekroonde produksie ‘n Gek vir jou/A Fool For You wat mees onlangs by die 2025 National Arts Festival ‘n BRONS Standard Bank Ovation Award losgeslaan het. Sy word in 2023 genomineer vir Beste Prestasie in ‘n Dans-produksie by die Toyota Stellenbosch Woordfees. Sy behartig ook die stem-vertolking vir die karakter Kerriman in e.tv se Sout van die aarde. Tussen-in tree sy as verhoogbestuurder op vir onder andere Sterstof (Toyota inniBOS) en ‘n Middel (Toyota Stellenbosch Woordfees).


Christie is ‘n teatermaker en komediant en het in 2022 ‘n BA(Hons) Drama- en TeaterstudIe by Stellenbosch Universiteit verwerf. Sy is die ander helfte van die komiese duo agter die bekroonde produskie ‘n Gek vir jou/A Fool For You wat mees onlangs by die 2025 National Arts Festival ‘n BRONS Standard Bank Ovation Award losgeslaan het. In 2024 vertolk sy die rol van Carly in Andi Colombo se 32 Lavender Close, wat ook daardie jaar ‘n BRONS Standard Bank Ovation Award by NAF verower het. In diselfde jaar dring sy ook deur na die uitdunrondtes van die Jive Funny Championship, en word in die daaropvolgende jaar by die Savannah Comics’ Choice Awards se Newcomer Showcase ingesluit. Sy is ook die skrywer van die gewilde Tjokkertoneel-produksies Kosblik (2023) en Sokkieverse (2024). In 2026 vertolk Christie die rol van Jacomien in die gewilde kykNET-drama, Die Oord.

DIRECTIONS

BESTE VAN ALLE TYE
Kaapstad Toneelhuis
61 Loop St, Cape Town City Centre, Cape Town, 8001, South Africa
Get Directions