No under 18s

Atropa

Wed Oct 7, 10:00 - Sun Oct 11, 20:30

Open Window Campus

ABOUT

Met o.a. Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellermann, Rolanda Marais, Carla Smith, Geon Nel


In ’n wêreld verskeur deur oorlog, ongelykheid en die nalatenskap van kolonialisme, tref Atropa: Die wraak van vrede soos ’n pyl. Hierdie herbesinning oor die Trojaanse oorlog deur die Vlaamse skrywer Tom Lanoye is nie net ’n hervertelling nie, maar ’n radikale aanklag teen hedendaagse magsug, patriargie en die politiek van geweld. Teen die agtergrond van globale konflik en ’n eeue-oue stryd teen geslagsgebaseerde geweld, staatsmag en historiese trauma word Atropa ’n spieël vir ons tyd. (Griekse en Trojaanse) vroue – moeders, minnaresse, vegters – staan vas teen die vernietiging wat deur mans gedryf word. Hulle stemme, eeue lank stilgemaak, weerklink nou luid en duidelik. Atropa is ’n wekroep om vrede in ’n wêreld verslaaf aan oorlog.


Regisseur en ontwerp Marthinus Basson

Skrywer en vertaling Tom Lanoye

Stel- en beligtingsontwerp Nicolaas de Jongh

Kostuumontwerp Phyllis Midlane

Verhoogbestuur Nicolaas de Jongh, Jean du Plessis (assistent)


’n KKNK-produksie, in samewerking met die Staatsteater, moontlik gemaak deur NATi en ondersteun deur die Toyota Stellenbosch Woordfees met ’n bydrae deur Literatuur Vlaanderen


REGISSEURSNOTA

Marthinus Basson


In 414 v.C. skryf die Griekse digter-dramaturg Euripides Die vroue van Troje waarin hy die nadraai van die liefdesverhouding tussen die Griekse Helena (Rolanda Marais) en Paris, prins van Troje, ontgin as aanklag teen die mens se oorlogsugtigheid en die gepaardgaande vernietiging van die mensdom, ekonomie en kultuur.

Helena verlaat haar man, Menelaus, broer van die veldheer Agamemnon (Geon Nel), wat met Helena se suster Klutaimnestra (Anna-Mart van der Merwe) getroud is. Sy vlug saam met Paris na Troje. Gekrenk in hulle familie-eer besluit die twee broers om Helena se “ontvoering” te wreek deur die grootste vloot ooit byeen te bring – duisend skepe en derduisende manskappe – om op te vaar in stryd teen Troje. Maar die wind wil nie waai nie, die seile hang pap en die manskappe raak opstandig.

Die gode eis ’n slagoffer om die wind te laat waai. Ifigeneia (Carla Smith), die jongste dogter van Agamemnon en Klutaimnestra, is die prys wat betaal moet word vir die wind om te waai. Dié bloedoffer lei tot tien jaar van onophoudelike oorlog en die algehele vernietiging van Troje en sy kultuur.

Die mans van die Trojaanse koningshuis word uitgewis en die vroue gevange geneem. Hekabe (Antoinette Kellermann), die koningin van Troje, haar skoondogter Andromache en Kassandra, sy met die gawe om die toekoms te sien, word as slawe na Griekeland geneem as buit.

Sowat 2 500 jaar later ontketen die aanval op die Twin Towers in New York George Bush se vernietigende oorlog tussen Irak en Amerika en word dit die voerbron vir die internasionaal befaamde Belgiese dramaturg Tom Lanoye om Atropa, sy meditasie oor die aard van die mens en die impak van oorlog op die individu, die gemeenskap en geskiedenis, te skryf. Hy lê die impak van hierdie gegewe bloot deur te fokus op die gesin, die grense van liefde, volkstrots, ideologie, propaganda en die waarde van die mens.

In die lig van die huidge stand van die politiek sover dit Oekraïne en Iran, Amerika, Rusland en China betref, lê die skaduwee van Euripides weer laag oor ons as waarskuwing en rigtingwyser. Lanoye se spierkragtige vertaling is sy eerste vertaling in Afrikaans.







DIRECTIONS

Atropa
Open Window Campus
Oude Molen, 1 Distillery Rd, Stellenbosch Central, Stellenbosch, 7600
Get Directions