Markus (en die brandblusser op die derde verdieping)
Sat Jun 20, 18:00 - Sat Jun 20, 18:50
263 8th Street, Voëlklip
ABOUT
Ná sy debuut by vanjaar se KKNK, word dié produksie nou as ’n intieme huiskonsert aangebied. En ja…daar’s komplimentêre wyn! Trots geborg deur Van Niekerk Family Wines. So kom en geniet 'n glasie wyn voor die vertoning om 17:30.
“Hierdie is nie ‘n “slice of life” nie dis die krummels onder die toaster.”
’n Kongregasie koekhare, twee lesbiese hoenders, ’n erotika-skrywende Asperger, en ’n trans brandblusser…nou kort ons net ’n dubbeladapter. Markus (en die brandblusser op die derde verdieping) bied ’n intieme blik op die stream-of-consciousness van ’n jong queer man, Markus Benade, terwyl hy die afgelope drie jaar van sy universiteitslewe met die hulp van ’n brandblusser probeer verwerk. Die stuk belig temas van verlies, gay identiteit, liefde, en self-liefde. Dit ontbloot die flitsbeelde van Markus se bestaan, die niks-en-niemands wat hy langs die pad ontmoet het en dít wat nog van hom oor is.
BETROKKENES
SKRYWER / REGISSEUR / MUSIEK / SPEL – VIHANN VAN ROOYEN
Vihann van Rooyen is die brein agter Markus (en die brandblusser op die derde verdieping). Hy het pas sy MA in Drama- en Teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en het hierdie produksie by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) opgetree. Hy was die skrywer en ook ‘n vertolker in [INDISTINCT CHATTER], ‘n politieke sketskomedie, waarvoor hy by verlede jaar se KKNK ‘n kanna nominasie vir Beste Opkomende Nuweling gekry het.
VERHOOGBESTUUR – JURIE BOSHOFF
Jurie Boshoff het onlangs sy honneursgraad in Drama en Teaterstudies, met spesialisering in Kabaret, aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy mees onlangse werk sluit verhoogbestuur vir Granaatsap by KKNK (2026), Kaapstad Toneelhuis en die Cave-teater in Hermanus in. Hy het opgetree in én verhoogbestuur gedoen vir die fisieke teaterstuk Yellowtail by Suidoosterfees 2026, en het ook Glimpse (’n fisieke teaterproduksie) by Theatre Arts verhoogbestuur. Boshoff het ook vanjaar as deel van die kunsdepartement by Kelders van Geheime gewerk.
RESENSIES
“Van Rooyen speel die verhoog aan die brand in hierdie waaghalsige, opwindende, snaakse en hartroerende kragtoer” – Wessel Pretorius.
“Hy baken vir homself hier in Markus (en die brandblusser op die derde verdieping) ‘n vierkant op die verhoog af en speel in dié boksie. Hy doen dit met rou eerlikheid, humor en patos en ‘n heerlike aweregsheid” – Laetitia Pople.
“Puik komedie, noukeurige spel, en die teks is stof tot nadenke. Uitstekende toneelspel” – Waldemar Shultz.
“Hy is ‘n briljante akteur. Hy werk fyn en presies met verstommende tegniek” – Susanne Beyers.
“‘n Meesterstuk op elke. liewe. vlak. Markus (en die brandblusser op die derde verdieping) is bewyse van iemand in totale beheer van hul storie en tegniek” – Nichola Viviers.