Kerskonsert 2024
Wed Nov 27, 18:30 - Wed Nov 27, 20:00
Nederduitse Gereformeerde Kerk - Universiteitsoord
ABOUT
NG Universiteitsoord se Orrelkonsertreeks 2024 sluit af met 'n Kerskonsert op 27 November 2024. Hierdie konsert bring ‘n groep uiters professionele en talentvolle musikante bymekaar, wat saam iets werklik uitsonderlik gaan skep—‘n geleentheid wat nie gou weer gehoor of ervaar sal word nie.
Ons orrelis, Dr. Isabelle van Rensburg, sal hierdie aand se program lei met haar meesterlike spel op die orrel. Sy sal vergesel word deur 'n talentvolle koperblaaskwintet, bestaande uit Braam van Tonder (trompet), Donald Bouwer (trompet), Jaco van Staden (Franse horing), Hendri Liebenberg (tromboon) en Erik Beukes (tuba), die befaamde Chanticleer Singers, asook twee talentvolle studente van die gemeente, die sopraan Carmen Potgieter en tenoor Pierre van der Merwe.
Hierdie konsert bied ‘n unieke klankervaring wat selde in Suid-Afrika gehoor word. Met die samekoms van hierdie sangers, koperblaasspelers en die magtige klank van NG Universiteitsoord se orrel, sal die gehoor ‘n uitvoering beleef wat Kersfees op ‘n besondere en spesiale manier sal vier.
Hierdie vlak van musiekuitvoering en talent kom nie gereeld bymekaar nie en ons is opgewonde om hierdie uitsonderlike geleentheid by NG Universiteitsoord aan te bied.
Ons nooi u uit om hierdie spesiale aand van musiek en samehorigheid saam met ons te beleef.
Hierdie konsert word aangebied om fondse in te samel vir die onderhoud, herstel en restourasie van NG Universiteitsoord se orrel. NG Universiteitsoord se orrel is in 1967 gebou deur die Suid-Afrikaanse Orrelbouers (SAOB) en die grootste elektropneumatiese kegellaaiorrel wat in samewerking met die adviseur, Boudewijn Scholten, gebou is. Die orrel het 35 pypreekse, 41 verskillende registers en 3027 sprekende pype. Ná amper 60 jaar se intensiewe gebruik van hierdie instrument tydens eredienste, vir die opleiding van orreliste en die aanbied van vele orrelkonserte, is dit nodig vir die orrel om deur 'n proses van hertstelwerk en restourasie te gaan sodat dit kan aanhou klink in die toekoms. U ondersteuning word opreg waardeer.
Wanneer: 27 November 2024
Tyd: 18:30
Waar: NG Universiteitsoord, Hatfield, Pretoria