No under 13s

Kamphoer – die verhaal van Susan Nell met Sandra Prinsloo (Die Centurion Teater)

Wed May 3, 19:30 - Sun May 7, 16:15

Die Centurion Teater

ABOUT

Amper Uitverkoop! Nog 'n vertoning bygevoeg!


Kamphoer – die verhaal van Susan Nell

Die Centurion Teater

3 - 7 Mei 2023


“Dit is meesleurend. Beter teater gaan jy nie sommer kry nie, en as jy dit misloop, is dit onontkenbaar jou verlies” - Maroela Media


Die liefling van Suid-Afrikaanse teater, televisie en film, Sandra Prinsloo, keer terug na die verhoog in nog ‘n treffer-produksie, Kamphoer – die verhaal van Susan Nell, met regie deur die internasionaal-gerekende Lara Foot. Met 'n beperkte speelvak by die bekroonde en intieme Centurion Teater, beloof hierdie produksie 'n ervaring soos geen ander.


Die drama is geskoei op die topverkoper en debuutroman Kamphoer deur Francois Smit asook die niefiksie-publikasie The Boer Whore deur Nico Moolman. Dit is verwerk vir die verhoog deur Cecilia du Toit in samewerking met Sandra Prinsloo en Lara Foot. Met dié produksie maak Foot haar buiging in die professionele Afrikaanse teaterindustrie terwyl dit ook die eerste samewerking is tussen Foot (Tshepang, Karoo Moose) en Prinsloo (Oscar en die pienk tannie, Moedertaal), een van Suid-Afrika se mees geliefde en bekroonde aktrises.


Die kragtige drama het met groot welslae en lof van beide gehore en die media by die 2019 Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein gedebuteer, met vyf ster-resensies en vol huise. Dit is aangewys as Beste Nasionale Teaterdebuut by die fees se Blinker-toekennings terwyl Sandra die 2020 kykNET Fiësta-toekenning asook die 2022 Naledi-teatertoekenning vir Beste spel in ‘n solo-vertoning ontvang het. Die produksie is ook benoem vir ‘n Fiësta vir Beste verwerking van ‘n bestaande werk, ‘n Fleur du Cap-teaterbenoeming vir Beste spel in ‘n solovertoning en het verder vier benoemings by Aardklop 2019 ontvang: Beste Aktrise, Beste Regisseur, Beste optrede in ‘n solo-produksie en Beste Algehele aanbieding. Dit het ook sewe benoemings by die Naledi-teatertoekennings ontvang. Dit was ook een van die topverkopers in Bloemfontein en het by Aardklop heeltemal uitverkoop voor die fees begin het. By die 2020 Toyota US Woordfees was dit die topverkoper op die toneelprogram.


In Januarie 2021, ten spyte van die feit dat die meeste teaters in donker gehul is weens die Covid-19-pandemie, is Kamphoer – die verhaal van Susan Nell met groot welslae en uitverkoopte vertonings vir ses weke aangebied by die historiese Markteater en Roodepoortteater in Johannesburg, gevolg deur uitverkoopde speelvakke by die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg en die Playhouse in Durban. Die produksie het landwyd getoer met uitverkoopte speelvakke en nou is dit terug in 2023 met slegs DRIE speelvakke landswyd. Kamphoer – die verhaal van Susan Nell open by die Centurion Teater op 3 Mei 2023 en moét sluit op 7 Mei 2023. Slegs 5 vertonings in Pretoria!


Beeld skryf, “Drie vroue dra uithaler van ’n produksie. Sandra Prinsloo speel dié rol met oorgawe.” Stronk, die fees se amptelike koerant, beskryf dit as “ ’n kragtige drama wat diep tref” en “Prinsloo se kragtoer as Susan Nell het die gehoor verdwaas gelaat. Trane het in baie oë geblink ná ’n staande ovasie.” Jan-Jan Joubert skryf in sy resensie vir Maroela Media: “Dit is meesleurend. Beter teater gaan jy nie sommer kry nie, en as jy dit misloop, is dit onontkenbaar jou verlies”.


Francois Smith, skrywer van Kamphoer was ook vol lof vir die produksie: “Intens en geweldig aangrypend. Elke aspek het meegespeel, van die teksverwerking, die regie en dan Sandra Prinsloo se deurleefde vertolking. Bravo.”


In die toneelstuk vertolk Suid-Afrikaanse legende Prinsloo die uitdagende rol van Susan Nell wat gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) ‘n traumatiese belewenis moet deurmaak.


Na haar pa se dood tydens die oorlog, beland Susan en haar ma-hulle in die konsentrasiekamp waar sy deur twee Britse offisiere en ’n joiner wreedaardig verkrag en vir dood agtergelaat word. Sy oorleef die gruweldaad en bekwaam haarself as sielkundige in Nederland. Sy reis gedurende die Eerste Wêreldoorlog na ‘n psigiatriese hospital in Engeland waar haar paaie kruis met een van haar verkragters, waar hy as pasiënt aan bomskok lei. Met dié herontmoeting word Susan opnuut gekonfronteer met die die pyn en vernedering van haar verlede.


2019 was die 120ste gedenkjaar van die Anglo-Boereoorlog en die produksie bring hulde aan dié era. Die roman Kamphoer is onder meer benoem vir die Jan Rabie Rapport-toekenning, ‘n ATKV-toekenning en gekortlys vir die 2018 Sunday Times Literêre toekennings. Die produksie word moontlik gemaak deur die ondersteuning van KunsStig.


Aangebied deur die vervaardigers van die bekroonde Die reuk van appels en gemeet aan die oorweldigende reaksie wat die produksie ontvang het, beloof Kamphoer – die verhaal van Susan Nell om gehore regoor Suid-Afrika verder aan te gryp. Dit het ‘n ouderdomsbeperking van 14. 


Met Sandra Prinsloo

Regie: Lara Foot

Gegrond op die topverkoper en debuutroman Kamphoer deur Francois Smit en die niefiksie-publikasie The Boer Whore deur Nico Moolman

Stel- en beligtingsontwerp: Patrick Curtis

Klankontwerp, klankbaan en komposisie: Simon Kohler

Kostuumontwerp: Mariechen Vosloo en Birrie le Roux

Verwerk vir die verhoog deur Cecilia du Toit, Sandra Prinsloo en Lara Foot

Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp

Vervaardig deur Theatrerocket

Moontlik gemaak deur KunsStig

Vir die Centurion Teater: Tiaan Kirsten-Lubbe en Lian Sachse

Tydsduur: 75 minute

Ouderdomsbeperking: geen o/14

 

Media en ander terugvoer:


“Die oorgang van getraumatiseerde kampdogter tot betrokke psigiater word intens emosioneel, met jeugdige oorgawe en eksistensiële twyfel deur Prinsloo gespeel. Met haar hortende herroeping van ’n kampverkragting plaas sy die onreg teen vroue in die konsentrasiekampe weer verblindend in die kollig.” – Naòmi Morgan, Die Volksblad

 

“Vyf sterre” – Naòmi Morgan, Die Volksblad


“Intens en geweldig aangrypend. Elke aspek het meegespeel, van die teksverwerking, die regie en dan Sandra Prinsloo se deurleefde vertolking. Bravo.” – Francois Smith, skrywer van Kamphoer


“Prinsloo se kragtoer as Susan Nell het die gehoor verdwaas gelaat. Trane het in baie oë geblink ná ’n staande ovasie.” – Charles Smith, Netwerk24


“Sandra se absolute bemeestering van stilte, tempowisseling en pousering kan nie maklik geëwenaar word nie.” – Corrie Geldenhuys, navorsingsgenoot aan die ETFB aan die Universiteit van die Vrystaat

 

“‘n Magtige kunswerk. Sandra Prinsloo was manjifiek en is wonderlik aangevul deur die aangrypende stel en rekwisiete, en gerig deur die nooit volprese Lara Foot. Wat ‘n voorreg was dit om weer daardie woorde van François Smith te hoor; die woorde (liries en ook hartverskeurend) wat my so ontroer het toe ek aanvanklik die boek Kamphoer gelees het.” – Murray la Vita, facebook

 

Beter teater gaan jy nie sommer kry nie, en as jy dit misloop, is dit onontkenbaar jou verlies.” – Jan-Jan Joubert, Maroela Media

“Prinsloo se vertolking van die naamrol in hierdie eenvroustuk is ? móét om te sien vir enigiemand wat die teater, ons taal en spesifiek die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner liefhet. Dit is vir vertonings soos hierdie dat die toneelgenre bestaan – ? meestersklas van hierdie aktrise sonder gelyke in Afrikaans.” – Jan-Jan Joubert, Maroela Media

“Sandra Prinsloo lewer ‘n kragtoer in hierdie emosiebelaaide stuk met sy versengende, byna brutale eerlikheid.” – Thereza Smith, WeekendSpecial


“Die deurslagewende element van hierdie toneelstuk, wat jou oë vasgenael hou op die verhoog – selfs al is jy bewus van hierdie nare, wrede verhaal – is Prinsloo se intense, emosioneelbelaaide spel.” – Thereza Smith, WeekendSpecial


“Prinsloo se vermoë om van jong, onskuldige meisie tot ouer, gebroke vrou te wissel, is meesterlik. Foot bring ’n ongelooflike dimensie na die toneelstuk.” – Maryke Roberts, Litnet

 

“ ’n Boeiende verwerking van Francois Smit se bekroonde Anglo-Boereoorlog-roman.” – Marianne Thamm, Daily Maverick


“Prinsloo troon uit in die Suid-Afrikaanse teaterlandskap en bevestig weer eens haar buitengewone vermoë om haarself op die verhoog in haar karakter te laat verdwyn. Hoewel dit 'n uitmergelende opvoering is, delf Prinsloo diep om die veerkragtigheid en humor wat Nell se uiteindelike oorlewing dryf, na vore te bring.” – Marianne Thamm, Daily Maverick

 

“Daar is net een vrou op die verhoog, maar sy’t die stamina van ’n leërskare. Sy wissel die emosies in een uur af soos al die seisoene in een jaar. Veral soos herfs; daar is kleur en diepte in haar vertolking.” – Naomi Meyer, Litnet


“'n Kragtige, moeilike, noodsaaklike ontmoeting met die verlede. Sandra Prinsloo lewer 'n kragtoer.” – Chris Thurman, Daily Maverick

DIRECTIONS

Kamphoer – die verhaal van Susan Nell met Sandra Prinsloo (Die Centurion Teater)
Die Centurion Teater
123 Amkor Rd, Lyttelton Manor, Centurion, 0157
Get Directions