Weg Ry & Sleep Bull Run 2021 - die 10e een

Thu Oct 7, 10:00 - Sat Oct 9, 23:00

Van Wyksvlei

ABOUT

Die Weg Ry & Sleep Bull run 2021 gaan een vir die boeke wees. Ons vier hierdie jaar die 10 Bull Run met 'n week propvol vermaak en iets vir almal. Dit begin met 'n 4x4-ekspedisie van Van Wyksvlei af wat die Maandag begin tot die Woensdag (4 tot 6 Oktober). Woensdagaand hou ons 'n groot konsert in Van Wyksvlei om die Bull Run ordentlik af te skop met van die grootste name in Afrikaanse musiek wat gaan optree. En dan Donderdag tot Saterdag hou ons Bull Run soos gewoonlik.


DIE KAARTJIES VIR DIE 4X4-EKSPEDISIE EN DIE KONSERT SAL EERSDAAGS OPEN. Die besprekings vir die tentedorp ook.


As jy nie weet wat die Bull Run is nie, kyk gerus hierna







Is jy lus om te gaan? Maak seker jy lees die reëls en inligting oor die Bull Run deeglik voor jy registreer. Die belangrikste om te onthou is dat ons slegs plek het vir 150 spanne. Voorkeur sal gegee word aan registrasies wat reg en volledig is, so maak seker jou kar en span is reg vir die ding voordat jy registreer. Ons gaan ook natuurlik die wat eerste registreer eerste plek gee, so moenie te lank wag nie.

REËLS EN INLIGTING

  • As jy jou inskrywing wil kanselleer, moet jy die versoek skriftelik aan die organiseerders rig ten minste 30 dae voor die aanvang van die byeenkoms. Met die huidige stand van sake in die wêreld rakende COVID-19 en dies meer, sal terugbetalings vir kansellasies 100% gedoen word waar moontlik. Moet egter nie tot op nommer 99 wag om te kanselleer nie, dit maak dit moeilik om ’n ander span te kry om in jou plek deel te neem.  
  • Weens die inherente risiko van so baie deelnemende voertuie is dit belangrik dat alle deelnemers tydens die Bull Run die aanwysings en opdragte van die organiseerders en beamptes gehoorsaam.
  • Die besluit van die organiseerders oor enige aspek van die Bull Run, in oorleg met die redakteur van Weg Ry & Sleep, die uitgewer en Media24, is finaal en geen gesprekke sal daaroor gevoer word nie.
  • Drankgebruik ten tyde van deelname word ten sterkste afgekeur en spanne wat skuldig gevind word sal gediskwalifiseer word en nie toegelaat word om verder te bestuur nie. Deur te drink en bestuur oortree jy nie net die wet nie, maar stel jy ook eie lewe en die van ander deelnemers, ondersteuners en toeskouers in gevaar. Daar sal sporadiese alkoholtoetse gedoen word.
  • Deelnemers word versoek om alle insittendes se naam op die kar te skryf onder die venster waar die persoon gaan sit. Die voertuig se ouderdom moet ook op die kar geplak word (voorste modderskerm aan die bestuurderskant) en ook die waarde van die voertuig. Indien jy dus die waarde van jou voertuig uit jou duim uit suig, sal ander deelnemers dit gou agterkom. Dit sal steeds ook jou voorgee negatief beïnvloed.
  • Die voorgee-stelsel sal baie strenger toegepas word. Dit bepaal hoeveel persent van die span se punte wat hulle verwerf gaan tel vir hul finale punt. Die maksimum gaan 100 voorgeepunte wees, so persoon sal dus 100% van sy punte kry. Hoe laer jou voorgee, hoe minder punte kry jy. Niemand se voorgee sal egter 0% wees nie. Maar om seker te maak jy kry die beste moontlike voorgee, moet jy ook seker maak jy neem deel in die gees van die Bull Run. Dit beteken jou span en jou voertuig is volgens ’n tema versier, jy is reg vir ’n rally en reg vir pret. Die ouderdom van die voertuig, enjingrootte en waarde word ook hierby in berekening gebring.
  • Die rygoed: Om die byeenkoms meer by die oorspronklike idee te hou moet die rygoed ouer as 1985 (1985 ingesluit) wees en minder as R30 000 kos. Dit sluit alle uitgawes in van herstelwerk tot registrasiefooie.
  • Elke voertuig wat deelneem moet padwaardig wees en bewys van registrasie moet gelewer kan word as die organiseerders dit sou versoek.
  • Vir ’n voertuig om deel te neem moet dit op eie stoom in Van Wyksvlei aankom. Indien ’n voertuig op pad breek, kan dit op ’n sleepwa tot by die kampterrein gesleep word vir herstelwerk. Die idee bly dat voertuie self tot in Van Wyksvlei ry en self op eie stoom deelneem. Dit is deel van die ervaring.
  • Al manier hoe ’n voertuig wat buite die spesifikasies val toegelaat sal word, sal wees indien die voertuig al voorheen aan die Bull Run deelgeneem het, nie die span nie.  In buitengewone gevalle kan ’n uitsondering ook aan hierdie reël gemaak word.
  • Dit bly die reg van die organiseerders om inskrywings wat nie by die reëls hou nie af te keur.
  • Waar moontlik word deelnemers gevra om valhelms te dra, veral tydens die items op die pan tydens die Bull Run.
  • Alle voertuie moet veiligheidsgordels vir ALLE insittendes hê. Indien veiligheidsgordels aangebring moet word, kan dit gedoen word sonder om die koste van die voertuig vir deelname (R30 000) te beïnvloed.
  • Voorkeur sal aan vierdeursedans gegee word. 
  • Daar sal ook weer hierdie jaar ’n tentedorp wees wat opgeslaan word sodat deelnemers slegs ’n slaapsak en ’n kussing hoef te bring. Die koste en spesifikasies hiervan sal later bekendgemaak word.
  • Pryse (indien enige) word toegeken volgens die organiseerders. Geen deelnemer is geregtig op enige prys nie, dit is nie waaroor die Bull Run gaan nie.
  • As jy instem om deel te neem aan die Weg Ry & Sleep Bull Run, stem jy in dat dit ’n uitstappie vol pret is en dat die klem nie noodwendig op mededinging val nie, maar eerder op hoeveel jy dit geniet. Die pret van die Bull Run kom van die deelnemers, nie die organiseerders nie.
  • Elke deelnemer en passasier in die voertuig moet ’n geldige rybewys hê en dus ouer as 18 jaar wees.
  • As organiseerders behou ons die reg voor om enigiemand ter enige tyd van die pan te laat verwyder, want dit is privaatgrond, en het die Van Wyksvlei-polisie en eienaar van die pan se samewerking hierin.
  • DAAR SAL VOORTAAN GEEN TOESKOUER VOERTUIE OP DIE PAN TOEGELAAT WORD BUITE DIE TOEGEWYSTE PARKEERAREA NIE. Selfs al kom jy hoe ver om teen jou vriende te kom drag race, as jy nie ‘n betalende deelnemer is nie, sal jy slegs jou kar op die pan kan parkeer, en verder te voet kan beweeg op toegewysde roetes tussen die verskillende items. GEEN UITSONDERINGS EN GEEN BESPREKINGS NIE!
  • BAIE BELANGRIK!!! ’n Deelnemer is iemand wat in die Bull Run kar ry en aan die items deelneem. ’n Ondersteuner is iemand wat in ’n ander voertuig ry en langs die kant staan en kyk. Deelnemers is die span wat op die veld draf, Ondersteuners is die cheerleaders en ouens wat langs die kant op die pawiljoene sit.
  • Dit is baie belangrik dat alle ondersteuners registreer. Anders sal hulle nie toegang tot die pan of skougronde/kamp kry nie.
  • ‘n Gedeelte van hierdie geld word in ‘n fonds belê wat uitsluitlik gebruik word om die gemeenskap in en rondom Van Wyksvlei by te staan in hierdie moeilike tye.
  • Koste: Die koste vir deelname beloop R7600 per span (dit is die kar span se registrasie en twee deelnemers). Ekstra deelnemers meer as die twee wat reeds ingesluit is, beloop R2600 per persoon. Die koste vir ondersteuners is R1250 per persoon.
  • Hierdie vorm gaan gebruik word vir keuring vir deelname aan die Bull Run. Die kriteria wat ons gaan gebruik word hier onder verduidelik. Die klem val egter op voertuie wat oud genoeg is (ouer as 1985), min genoeg gekos het (minder as R30 000) en voorkeur word aan vierdeursedans gegee. Dus sal ‘n 1992-model Pajero wat jy vir R60 000 gekoop het, nie oorweeg word nie. Hou ook in gedagte dat daar gesinne, vrouens en kinders ingesluit, aan die Bull Run deelneem. Dit sluit ook mense van ander kulture, herkoms, politieke oortuigings en geloof in, so kies tema’s en spanname met klas.  Almal will die Bull Run geniet, en jy wil nie die rede wees dat iemand dit waarna hy al lankal uitsien nie geniet nie.
  • Voornemende deelnemers moet registreer met ’n volledige span, tema en alles wat gevra word. Onvolledige registrasies sal nie oorweeg word nie. Wanneer daar meer as 150 spanne registreer, sal daar natuurlik voorkeur gegee word aan spanne wat nader aan die gees en tema van die Bull Run inpas.
  • Inskrywings is oop en sal oop bly totdat al die plekke gevul is. Daarna sal voornemende deelnemers wat nie plek gekry het nie op ’n waglys geplaas word.  
  • HIERDIE IS BAIE BELANGRIK WANT JY GAAN OP DIE INSKRYWINGSVORM KIES DAT JY AL HIERDIE REËLS GELEES HET EN VERSTAAN EN JY GAAN GEEN GRONDE HÊ OM DAAROOR TE STRY NIE. Ons probeer die proses so gou as moontlik afhandel en om dit so glad as moontlik te laat verloop vir almal betrokke.
  • Plek: Die Weg Ry & Sleep Bull Run vind in Van Wyksvlei plaas. Dit is ’n klein dorpie in die Noord-Kaap tussen Prieska, Kenhardt, Brandvlei en Carnarvon.
  • Datum: 7 tot 9 Oktober 2021..
  • DIRECTIONS

    Weg Ry & Sleep Bull Run 2021 - die 10e een
    Van Wyksvlei
    Vanwyksvlei, 8922, South Africa
    Get Directions