Juan Boucher live at Kapstadt Brauhaus Langebaan

Thu Feb 11, 19:00 - Thu Feb 11, 20:15

Kapstadt Brauhaus Langebaan

ABOUT

Na twaalf suksesvolle jare in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, het Juan Boucher beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie bekroonde Vaaldriehoeker, met sy growwe stem, lekkerluister-lirieke, ritmiese musiek en vermaaklike verhoogpersoonlikheid, het oor die jare diep in sy ondersteuners se harte kom nesskop.

 

Vandag is dié Gebore Om By Jou Te Wees-sanger ’n gevestigde naam, met 8 goue- en platinumverkoper ateljee-albums, talle radiotreffers en verskeie musiektoekennings op sy kerfstok.

 

Ter viering van sy suksesvolle loopbaan sover, het Juan ’n splinternuwe album, GEWIGLOOS, uitgereik, wat beloof om bewonderaars se stoutste verwagtinge te oortref. “Dit is my eerste album waar nie een van die klanke geprogrammeer is nie en met regte, lewendige instrumente opgeneem is,” vertel die sanger. “Wanneer ek daarna luister, voel ek gewigloos. Elke liedjie is in ’n unieke skryfstyl, ritme en tempo, met kitare wat sag skree en die bas wat alles nostalgies bymekaar hou. Ek wil graag hê die inhoud moet Afrikaans sterker maak en Suid-Afrikaners saam bind.”


Album nommer agt bestaan uit twaalf oorspronklike snitte, wat sorgvuldig uitgesoek is om ’n aanloklike storie te vertel. Buiten vir lekker opgewekte dansnommertjies en pragtige liefdesballades, is daar ook twee liedjies wat saam met ander kunstenaars geskryf is ingesluit. In die Bosveld saam met Neil Somers, is baie goed ontvang en kuier al vir weke lank bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies.


Juan het in 2012 sy debuut gemaak in die musiekbedryf met treffers soos Onthou Jy Om Jonk en beskou musiek en sy geliefdes as die grootste vreugdes in sy lewe. “Musiek is ’n geskenk van bo en ek is so geseënd om te kan sing en skryf,” sê hy. “Ek is op my gelukkigste as my liedjies mense laat glimlag en is lief vir die lewe, liefde en mense.”

 

Hy is bekend vir sy goedvoelmusiek en het reeds vroeg die kuns bemeester om liedjies te skep waarby die gehoor aanklank vind. Daarom is hy nie net in 2017 aangewys as die publiek se gunsteling tydens die Ghoema-toekennings nie, maar is hy ook in 2019 met Aitsa- (Beste Lirieke in Suid-Afrika) en Bokkie-toekennings (Beste Manlike Kunstenaar) bekroon. 


GEWIGLOOS is ’n moet-hê-album vir elke Juan Boucher-aanhanger. Dit is ’n kombinasie van lekkerluister-musiek waarsonder geen speellys volledig sal wees nie. Sy nuutste album en enkelsnit is nie net ’n duidelike bewys dat dié sangsensasie sy gehoor se belange op die hart dra nie, maar ook ’n juweel vol treffers wat nog vir baie jare oor die radio gehoor sal word.  


DIRECTIONS

Juan Boucher live at Kapstadt Brauhaus Langebaan
Kapstadt Brauhaus Langebaan
1 Mykonos Access Rd, Mykonos, Langebaan, 7357
Get Directions